Moet jy heraansoek doen vir jou huidige vuurwapenlisensies? Hieronder volg die stappe wat jy moet deurgaan vir herlisensiëring : 
1. Jy moet by ‘n geakkrediteerde opleier of assessor ‘n toets oor die nuwe vuurwapenwet gaan aflê, om sodoende ‘n opleidingsertifikaat te bekom. Jy doen 'n oopboek toets tuis om jou te help studeer, waarna jy onder die opleier of assessor se toesig eksamen skryf. Alhoewel jy net een toets skryf, moet jy vir elke tipe vuurwapen hierdie opleidingsertifikaat verkry – gewoonlik is dit net ‘n kwessie van verskillende vorms invul vir die verskillende kategorieë, naamlik Handwapens, Gewere en Haelgewere (Daar mag ook verskiilende kategorië op een sertifikaat aangegee word). Daar is ook nog ‘n vierde kategorie naamlik Semi-Outomatiese wapens, maar jy mag slegs vir ‘n semi-outomatiese haelgeweer aansoek doen en dan slegs as jy ‘n Toegewyde Jagter is. 

2. Met bogenoemde opleidingsertifikaat gaan jy dan na die SAPD om vorms te verkry vir aansoek om ‘n Bevoegdheidsertifikaat. Streng volgens wet moet jy eers hierdie sertifikaat hê voordat jy mag aansoek doen vir jou vuurwapenlisensies, maar die SAPD laat jou in hierdie eerste fase toe om gelyktydig ook jou aansoeke vir jou verskillende vuurwapens te doen. (Onthou net dat, indien jy nie 'n Toegewyde Jagter volgens die nuwe wet is nie, jy slegs vir 4 vuurwapenlisensies mag aansoek doen, waarvan net een 'n selfvededigingswapen - handwapen of haelgeweer - mag wees). Sien elders op hierdie webwerf wat jy moet doen om as Toegewyde Jagter te registreer. Jy sal dit waarskynlik nie regkry om twee handwapens te lisensieer nie, tensy jy kan bewys dat jy een gebruik om mee te jag. 

3. Bogenoemde aansoekvorm vir jou bevoegdheidsertifikaat bevat onder andere gedeeltes wat ingevul moet word deur jou huisdokter, jou gade, jou buurman en deur ‘n vriend. Jy benodig ook ‘n paspoortfoto in kleur vir hierdie vorm en daar is ‘n aansoekfooi van R70. Jou kluis moet ook reg wees en behoorlik aan die muur en vloer vasgebout wees, want daar sal ‘n kluisinspeksie deur die SAPD gedoen word. 

4. Vir elkeen van jou vuurwapens moet jy ook ‘n aparte aansoekvorm invul. Vir elkeen van hierdie vorms benodig jy ook ‘n paspoortfoto in kleur en R70 aansoekfooi. Onthou dan net dat dit baie belangrik is om jou behoefte baie goed te motiveer, anders mag jou aansoek dalk geweier word. Moet asseblief nie net in die blokkie daarvoor gereserveer op die aansoekvorm net 'n kort sinnetjie skryf nie - DIT GAAN NIE WERK NIE! Skryf liewer in hierdie blokkie "Sien aangehegte Motiveringsverslag" en skryf dan 'n ordentlike verslag met 'n motivering vir elke afsonderlike vuurwapen waarvoor jy aansoek doen. Op die vorige webbladsy ("Riglyne vir Vuurwapenlisensies") is 'n PDF leêr wat jy kan uitdruk en as jy die riglyne op hierdie bladsy volg, behoort jy nie probleme te hê om jou vuurwapens suksesvol te lisensieer nie. Heg soveel as moontlik foto’s en sertifikate en afskrifte van jou ID, huidige vuurwapenlisensies en lidmaatskapkaart aan. Indien jy nog onseker is wat om te doen, kan jy my (Abel Botha) per e-pos vra by mwabelb@mweb.co.za en ek sal vir jou my verslag aanstuur wat jy dan as voorbeeld kan gebruik. (Myne het goed gewerk!) 

5. Daar moet ook gewaarmerkte afskrifte van jou ID en huidige vuurwapenlisensies by die aansoeke aangeheg word. 

6. Nou gaan jy terug na die SAPD waar jy (oneindig baie!) vingerafdrukke moet maak. 

7. Wanneer jy die vorms ingehandig het, maak seker dat jy die bewys van inhandiging (kwitansies) by die SAPD ontvang, want dit is hierdie dokumente (plus jou huidige vuurwapenlisensies) wat jou ‘n wettige vuurwapeneienaar maak tot tyd en wyl jy jou nuwe lisensies ontvang het. 8. Net ‘n handige wenk : Maak afskrifte van elke vorm en dokument wat jy inhandig en bêre dit sorgvuldig saam met bogenoemde kwitansies! 

Wanneer moet ek aansoek doen vir herlisensiëring? Die wet het die heraansoekproses oor vier jaar versprei:
 
As jy tussen Januarie en Maart verjaar, moes jy aansoek gedoen het tussen 1 Januarie 2005 en 31 Maart 2006 

As jy tussen April en Junie verjaar, moes jy aansoek gedoen het tussen 1 Januarie 2006 en 31 Maart 2007 

As jy tussen Julie en September verjaar, moet jy aansoek doen tussen 1 Januarie 2007 en 31 Maart 2008 

As jy tussen Oktober en Desember verjaar, moet jy aansoek doen tussen 1 Januarie 2008 en 31 Maart 2009