Wil jy aansoek doen vir ‘n vuurwapenlisensie vir ‘n nuwe vuurwapen wat jy wil koop? Hieronder volg die stappe wat jy moet deurgaan : 

1. Jy moet by ‘n geakkrediteerde opleier ‘n skiettoets op ‘n ge-akrediteerde skietbaan gaan aflê met ‘n soortgelyke tipe wapen as dit wat jy wil koop (in die spesifieke kategorie, naamlik Handwapens, Gewere, Haelgewere of semi-outomatiese vuurwapens) en ‘n vraestel oor die nuwe vuurwapenwet skryf om sodoende ‘n Saseta opleidingsertifikaat te bekom 

2. Met bogenoemde Saseta sertifikaat gaan jy dan na die SAPD om vorms te verkry om aansoek te doen vir ‘n Bevoegdheidsertifikaat (As jy dit nie alreeds het nie - onthou dat, indien jy reeds 'n SAPD Bevoegdheidsertifikaat tydens jou herlisensiëring gekry het, kort jy waarskynlik nog 'n Saseta sertifikaat en mag dit moontlik wees dat jy wel hierdie skietoets sal moet gaan doen). 

3. Bogenoemde aansoekvorm vir jou bevoedheidsertifikaat bevat onder andere gedeeltes wat ingevul moet word deur jou huisdokter, jou gade, jou buurman en deur ‘n vriend. Jy benodig ook ‘n paspoortfoto in kleur vir hierdie vorm en daar is ‘n aansoekfooi van R70. Jou kluis moet ook reg wees en behoorlik aan die muur en vloer vasgebout wees, want daar sal ‘n kluisinspeksie deur die SAPD gedoen word. 

4. Wanneer jy jou SAPD Bevoegdheidsertifikaat ontvang het of reeds in besit is daarvan, kan jy by die SAPD ‘n aansoekvorm vir ‘n nuwe vuurwapenlisensie bekom en volledig invul. Jy benodig ook ‘n paspoortfoto in kleur en R70 aansoekfooi. Onthou dan net dat dit baie belangrik is om jou behoefte baie goed te motiveer, anders mag jou aansoek dalk geweier word. Moet asseblief nie net in die blokkie daarvoor gereserveer op die aansoekvorm net 'n kort sinnetjie skryf nie - DIT GAAN NIE WERK NIE! Skryf liewer in hierdie blokkie "Sien aangehegte Motiveringsverslag" en skryf dan 'n ordentlike verslag met 'n motivering vir elke afsonderlike vuurwapen waarvoor jy aansoek doen. Op die vorige webbladsy ("Riglyne vir Vuurwapenlisensies") is 'n PDF leêr wat jy kan uitdruk en as jy die riglyne op hierdie bladsy volg, behoort jy nie probleme te hê om jou vuurwapens suksesvol te lisensieer nie. Heg soveel as moontlik foto’s en sertifikate en afskrifte van jou ID, huidige vuurwapenlisensies en lidmaatskapkaart aan.


5. Daar moet ook gewaarmerkte afskrifte van jou ID en huidige vuurwapenlisensies by die aansoek aangeheg word. 

6. Nou gaan jy terug na die SAPD waar jy ‘n volledige stel vingerafdrukke moet maak. 

7. Wanneer jy die vorm ingehandig het, maak seker dat jy die bewys van inhandiging by die SAPD ontvang. 

8. Net ‘n handige wenk : Maak afskrifte van elke vorm en dokument wat jy inhandig en bêre dit sorgvuldig saam met bogenoemde kwitansies!