Deur
Oldrich van Schalkwyk
Hierdie is nie ‘n jagter se trofee nie maar is gedood ter selfverdediging op Lajuma. Johannes Mafafo was reeds in sy 70’s toe hy deur ‘n vorige eienaar Dr Henry Meiring, Distriks Geneesheer van Pietersburg, ‘n stukkie grond met beeste en bokke vir pensioen gegee is.
Ongelukkig het ‘n luiperd snags begin jagmaak op sy bokke. Een nag, gewapen met net ‘n spies, het Johannes dit reggekry om die luiperd voor te lê en sowaar dood te steek. Johannes het egter twee maande lank in die Sendingstasie Hospitaal by Elim deurgebring.
Die vel was gesout en eers in die bosse weggesteek. Huisvriende van Dr Meiring, die Travers familie is vandag die trotse eienaars van die besonderse luiperdvel. Toegedraai in koerantpapier is dit per trein vanaf Pietersburg na die Travers familie in Johannesburg geneem as dankbetuiging vir hul bydrae tot skolering van Johannes se seun John.
Vir dié van ons wat so bevoorreg is om die Bosveld ons tuiste te noem, is sulke verhale van luiperd en mens interaksie nog redelik algemeen. Dis nou ondanks die feit dat die Afrika luiperd Panthera pardus subsp. pardus as Bedreig gelys word deur UNESCO. Die Limpopo Provinsie spog met die grootste bevolking van luiperds in Suid-Afrika en is verantwoordelik vir ongeveer 63 % van die wettige luiperdjagte. In ander streke soos die Wes-Kaap is hul egter veel skaarser en selfs lokaal uitgestref.
In die 1960’s is daar met gemiddeld 60 000 Afrika luiperd velle handel gedryf. Om die volhoubaarheid van handel in dié produk te verseker is daar internasionaal ooreengekom om die bedryf te reguleer d.m.v. ‘n kwota stelsel. Die spesie word gelys CITES Appendiks 1 spesie en tot en met 2004 is 75 luiperd trofeë/of vel uitvoerpermitte aan Suid-Afrika toegestaan. Veel strenger regulering word toegepas vir die ander vier luiperd spesies nl. Jaguar, Sneeu, Clouded en “new” Clouded luiperd om nie eers te praat van die Afrika luiperd se subspesies in Indië, Arabië, Persië, noord-China en Amur wat almal Hoogs Bedreig is.