Confederation of Hunting Associations of SA

Tel +27 41 922 5600 Box 1614 Uitenhage 6230

Cel +27 82 523 8201 chasa@telkomsa.net

Fax +27 86 614 5354 www.chasa.co.za

Heinings moet ‘res nullius’ verhoed – en leeus red

Die geslag wat aan die begin van die vorige eeu gelewe het, het van wild as ‘res nullius’ gepraat - ‘n bekende latynse regsterm wat aangedui het dat die wild ‘aan niemand behoort nie’. Sedert die mensdom se getalle egter ‘n paar dekades gelede 3 biljoen oorskry het, is hierdie beginsel totaal onvanpas as dit kom by die suksesvolle bewaring van wild. Wilde diere het geen kans op oorlewing as hulle aan niemand behoort nie. Die suksesvolle Noord-Amerikaanse model van bewaring is daarop gevestig dat wild kollektief aan ál die mense behoort, en dat daardie besitters die diere besit en bestuur. Hierdie model is ook in ons land se parke van toepassing. Die Suider-Afrikaanse model weer, wat vir die mees suksesvolle bewaringsverhaal van alle tye gesorg het, is gevestig op die beginsel dat wild aan ‘n individuele grondbesitter behoort. 70% van alle wilde diere in Suid Afrika behoort aan boere. En hierdie suksesverhaal is gebaseer op die noodsaaklikheid van heinings ten einde dit moontlik te maak om die wild te besit en bestuur.

Alle wild op hierdie planeet het grense wat hulle inperk. Baie se ruimte word beperk deur natuurlike topografie, of die beskikbaarheid van geskikte habitat. Die meeste word omring en ingeperk deur menslike vestiging. Heinings is slegs nóg ‘n begrensing van hulle beweegvermoë – maar in ‘n wêreld met bevolkingsdruk soos tans, is dít ‘n noodsaaklikheid vir hulle voortbestaan.

Op omheinde eiendom, vereis die beginsels van etiese jag dat die gejagte dier oor die vermoë beskik om sy agtervolger te ontwyk, en verder dat die dier in habitat gehuisves word waar hy selfversorgend kan wees. Die oorgrote meerderheid van Suid-Afrika se wildplase voldoen aan hierdie vereistes, en gevolglik kan ons tot die slotsom kom dat bewaringsnoodsaaklike heinings nie botsend met die beginsels van etiese jag is nie.

Die laaste paar jaar het daar egter ‘n praktyk ontstaan waar leeus in kampe ‘gejag’ word waar hulle geen billike kans het om van hulle agtervolgers te ontsnap nie. Jagters verwerp hierdie geblikte skiet van leeus. Maar ons verwerp soortgelyks die ‘jag’ van enige ander spesie onder sulke omstandighede.

Die wetenskaplike benadering tot bewaring tref nie onderskeid tussen spesies nie en trek nie voor nie. Om sekere ‘vlagskip-spesies’ voor te trek is die styl van die diereregte aktiviste - gewoonlik om geld te maak - en is altyd ten koste van bewaring.

Mense wat ernstig is oor bewaring, sal die bestuur van leeus en wildsbokke volgens eenderse standaarde hanteer. Wanneer ons dan die skiet van geblikte leeus afkeur moet ons nie die baba saam met die badwater uitgooi en alle vorme van leeujag afkeur nie. Net soos wat dit noodsaaklik is vir die bewaring van wild dat hulle agter heinings bestuur en gejag word, net so noodsaaklik is dit dat leeus agter heinings bestuur en gejag word. Maar dan moet hierdie jagte plaasvind volgens etiese jagnorme wat voldoen aan die vereistes vir billike agtervolging, en in habitat waar die leeu selfversorgend kan wees.

Sonder hierdie insentief gaan geen grondeienaar hoegenaamd habitat aan leeus beskikbaar maak nie. En die bewaring van leeus word dan die alleen-verantwoordelikheid van Suider Afrika se groot parke. Watter tragiese nuus vir ‘panthera leo’.

Beste wense

Ludolph Swanevelder

Nasionale Voorsitter: CHASA